met net 'n brood

en 'n mond vol fudge

kop se dinge

Dis donker om my. Ek sien die son opkom, en sak, maar die lig kom nie by my uit nie.

Die kosmos giggel en wys vinger.

Ek kan die lag hoor in die agtergrond terwyl trane by my hart uit loop.

Ander se trane is mos vir die show, dit dra nie gewig nie. Dit is iets om oor te skinder as ons mekaar in die gange van Checkers raakloop.

“Fok jou!” Skree ek in my kop, my hart en my seer sit op my mou en frons.

Iewers in die baarmoeder van emosie begin Gatvol se hartjie te klop. Langs hom le sy tweeling sussie Opgee.

In ‘n makabere dans om oorlewing draai Gatvol sy naelstring om sy sussie se nek.

Iewers raak ons gatvol en kom tot die besef dat daar nie tyd vir opgee is nie.

Januarie 27, 2012 Bygedra deur | Afrikaans, Francois Rademeyer | , | 1 Kommentaar

Ink op my vingers.

Ek het nie besef hoe ongesond ek begin leef het nie. Ongesond is nie altyd te veel rook en te min groente eet nie, nee, daar is n ongesond wat volgens my veel ernstiger as enige kilogram is. Daar is n ongesond wat so diep siek maak dat jy dit in jou siel kan voel.

n Ongesond wat die lewe stadig uit jou lyf uit druk, en geen genade het vir die een wat nie beheer vat oor sy lewe nie.

Wat dit vir my soveel ernstiger maak is dat ek die tipe gevoel al voorheen in my lewe teegekom het, en daar is niks mooi om daaroor te vertel of skryf nie. Dit is n seer wat lank terug al uitgeskryf is en ek hoef dit nie hier weer te doen nie.

Die feit bly staan, ek sien hom kom.

Een van my gunsteling engelse idiome  Once bitten, twice shy, verwoord dalk nou die beste hoe ek hieroor voel. Lekker is nie altyd die moeite werd nie, en omdat ek eenkeer my vingers verbrand het gaan ek so waar as wragtig nie doelbewus weer so maak nie.

Slegte gewoontes het van nature die gewoonte om in die skadu te staan en wag vir die oomblik wat jy jou rug draai. Vir daardie een oomblik wat jy dink jy is ‘sterk’ genoeg om dinge die keer anders te maak.

Ongelukkig leer n man net uit ondervinding dat dit nooit die geval is nie. Slegte gewoontes is vreeslik maklik om te herhaal. En al die dinge wat saam met dit kom, die ontrafeling van jou lewe terwyl jy magteloos staan en toekyk.

Jou bloed verander in riool, jou waarde word niks.

Dit sal nie weer gebeur nie.

Soms moet jy net alles tot stilstand bring. Twaalf uur in die nag buite gaan sit met n koppie koffie en n sigaret, net om weer in stilte te kan onthou waarvoor jy alles kan dankbaar wees. Na die sterre te kyk, en vir jou God se stem daarin te soek.

Net om jouself  weer op koers te kry…

Januarie 3, 2012 Bygedra deur | Afrikaans, Francois Rademeyer | 2 Kommentaar